Restaurante, Kuierplekke en Teaters

Vertel ons van die lekkerste kuierplek in JOU dorp

Anton Botha het soveel gegroei as kunstenaar sedert hy in 2005 die musiek wêreld vir die eerste keer betree het en in 2020 gaan sy loopbaan net nuwe hoogtes bereik.

Wat hou die jaar alles in?

Die lekkerste partytjies om die aand reg af te skop met optredes wat reeds reg oor die land bevestig is. Van gereelde kuierplekke, ’n paar feeste tot die mees asemrowende sitkamer vertonings in jou eie voorhuis. Dit waarna ons die meeste uitsien is spik, splinternuwe musiek uit Anton se pen en ook ou (en nuwe) gunstelinge wat julle alreeds lekker saamsing en op die radio hoor!

Anton sing ’n verskeidenheid musiek vanaf oldies tot die nuutste treffers, met genres wat oorvleuel vanaf country tot Rock tot 80’s Pop. Hy sing sy eie oorspronklike Afrikaanse musiek en doen graag requests. Optrede opsies beskikbaar is solo optredes (met backtracks of akoesties), duo optredes asook band optredes.

In sy laerskool dae het hy alreeds saam met groot name soos Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen en Randall Wicomb opgetree. In 2003 is Anton aangewys as een van die tien ATKV Crescendo finaliste. In 2008 word hy genomineer vir ‘n SAMA-toekenning vir die Beste Afrikaanse Pop Album vir Jakaranda en in dieselfde jaar word hy vereer met ‘n goue plaat vir sy bydrae tot die albums Country Kersfees en Country Konings 1, wat albei onderskeidelik meer as 20 000 eenhede verkoop het. Anton is in 2016 benoem as ‘n kandidaat in die kategorie vir beste Rock- album tydens die jaarlikse Ghoema- toekennings. As ‘n baie gewilde liedjieskrywer is sy musiek al deur verskeie van ons land se bekendste musieksterre opgeneem. Hy het onder andere vir Juanita du Plessis, Karen Ferreira, Thys die Bosveldklong, Wynand Strydom, Karlien Husselman en Izak Davel geskryf. Toere saam met die gewilde Robbie Wessels, Wynand Strydom en Thys die Bosveldklong het gemaak dat Anton gou in die publiek se harte ingekruip met sy see- blou oë. Resensies van Anton se musiek is al gepubliseer in tydskrifte soos Vrouekeur, Rapport, Rapport Tydskrif en nog vele meer en hy is ook al te sien op televisie programme soos Jukebox, Kwela en DKNT2 op KykNET. Anton se musiek kan gehoor word op talle radiostasies en hy het ook al verskeie top tien plekke behaal op treffersparades. “Daar is so baie nuwe genres in die plaaslike musiekmark en elke nou en dan is daar ‘n nuwe kunstenaar soos Anton Botha wat my werklik met sy musiekbeïndruk.” (Kurt Darren, Rapport Tydskrif, Bl 20, 26 November 2006). Anton spog ook met ‘n arsenaal musiek videos wat op Youtube beskikbaar is en ook gereeld op televisie gesien kan word.

Wat jy kan verwag van ‘n tipiese Anton Botha vertoning is vermaak vir almal. Nie een vertoning is ooit dieselfde nie. Anton is baie lief daarvoor om requests vanuit die gehoor te kry. Vanweë sy ongelooflike musiekkennis was daar, tot dusver, nog niemand wat hom kon uitvang nie. Anton se gunsteling musiek is ou rock-musiek vanuit die 80’s en 90’s. Veral musiek van Dire Straits lê hom na aan die hart. Hy is ook baie lief vir Afrikaanse musiek en vermaak graag gehore met sy eie oorspronklike liedjies.

Vinnige Feite

Geboorte Datum: 11 Junie 1983

Geboorte Plek: Bethlehem

Laerskool : Laerskool Hennopspark (Centurion) / Laerskool Rynfield (Benoni)

Hoërskool : Hans Moore (Benoni)

Familie : Ouste van drie, twee jonger sussies

Gesien : Getroud met Lizel en ek het een dogter, Layla

Gunsteling tydverdryf : Jag

Gunsteling kos : Kookkos (Ouma s'n)

Watter plek wil jy graag verken? Ek wil baie graag die Barrier Reef in Australiё gaan verken.

Mees interessante plek waar jy al opgetree het : Malawi. Ek was bevoorreg genoeg om ‘n vertoning in Malawi te gaan doen. Die Malawi Meer is asemrowend, en die mense nog meer!

Waarheen gaan jy om asem te skep : Ek is baie lief vir die plaaslewe. Ek gaan ontspan graag op my skoonpa se plaas in die Oos-Vrystaat Daar is niks soos die vars lug en berge om vir ‘n mens inspirasie te gee nie. Natuurlik kan niks mens se kop so skoon spoel soos die see nie. Ons gaan graag as gesin na Ballito om rus te kry

Wat mense nie van jou weet nie : My aanlegtoetse op skool het voorgestel dat ek ‘n wildbewaarder moes word.Almal weet hierdie seker, maar ek is mal oor kitare en werk daaraan om ‘n hele versameling rare en waardevolle kitare bymekaar te maak.

Jou musiekstorie

Wanneer het jy begin kitaarspeel? My pa het my geleer kitaar speel toe ek 5 jaar oud was. Ek is baie bevoorreg dat beide my ma en pa se familie musikaal is. My oupa het destyds die land rondgetoer met sy boeremusiek orkes.

Waar was jou heel eerste vertoning? Burger Ranch in Centurion. Ek het my ma-hulle verbied om hande te klap!

Vertel ons meer van jou as liedjieskrywer : Ek skryf byna al my liedjies self. Ek is ook gelukkig om ander sangers se geloof in my te hê soos Izak Davel, Juanita du Plessis, Karen Ferreira, Karlien Husselman, Thys die Bosveldklong en Wynand Strydom.

Het jy jou eie ateljee? Ek bedryf ook my eie ateljee vanaf my huis in Centurion. BluEyesRecords doen enige opnames, bou backtracks vir enige genre en ouderdom en het ook onlangs begin om sang en kitaarlesse aan te bied onder die vaandel van BluEyesStudios.

Navrae

Vir optrede, ateljee, liedjieskryf of klas navrae kontak asseblief vir Lizel 0764806775 of admin@antonbotha.com (09:00-16:00)